Is jy ‘n ware vriend?
2024-05-27Spreuke 17:17 NLV
Twee mans het saam gereis toe daar skielik ‘n beer uit die niet verskyn. Voor die beer hulle kon raaksien, het een man na ‘n boom langs die pad gehardloop, in hom geklim en weggekruip. Die ander man, wat nie so rats soos sy reisgenoot was nie, het gaan lê en gemaak of hy dood is. Die man het altyd gehoor dat bere nie aan ‘n dooie liggaam sal raak nie, dus het hy heeltemal stil gelê en sy asem opgehou. Die beer het na hom toe geloop, oral rondom hom gesnuffel en toe gelyk asof hy iets in sy oor fluister. Daarna het die beer omgedraai en geloop. Toe dit lyk of dit weer veilig is, het die ander man uit die boom geklim. Nuuskierig het hy sy vriend gevra wat die beer vir hom gefluister het. Sy vriend het geantwoord: ‘Hy het vir my gesê om nooit saam met iemand te reis wat jou met die eerste teken van gevaar in die steek laat nie!’
Dis maklik om vriende met iemand wat suksesvol en op die kruin van die golf is, te wees. Wat gebeur egter wanneer daardie persoon val, of misluk, of hul verbintenis met Christus verloor, of doelbewus die verbintenis ontkoppel en allerhande lelike gevolge veroorsaak? Die Bybel sê: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken…’ Wanneer jy op die kruin van die golf is, is hulle nie jaloers nie en wanneer jy geval het, is hulle nie neerbuigend nie. Hulle is deernisvol en bedagsaam, selfs wanneer jy nie is nie. Die Amerikaanse skrywer Elbert Hubbard het gesê: ‘Jou vriend is die man [of vrou] wat alles van jou weet en jou nog steeds liefhet.’ As jy so ‘n vriend het, koester hulle en vertel hulle dikwels hoe baie jy hulle waardeer.
Sielskos: Rig 16:1-19:15; Mark 11:12-26; Ps 47; Spr 13:11-12