Is jy bekommerd oor jou aftrede?

2024-05-29
Matteus 6:31-33 NLV

‘n Opname is onder Amerikaners vyftig jaar en ouer geneem en die helfte van hulle het minder as dertig duisend dollar in hulle pensioenfonds gehad. Omdat ons almal langer lewe, beteken dit: a) baie mense gaan van die regering vir hul oorlewing afhanklik wees, en b) baie mense wat beplan het om af te tree, gaan moet aanhou werk. Dis ‘n wêreldwye probleem. Wat staan jou dus te doen?

1) Sny waar jy kan en spaar meer. ‘In ‘n wyse mens se huis is altyd kosbare besittings… ‘n Dwase mens gebruik alles op wat hy in sy huis het’ (Spreuke 21:20 NLV).

2) Kry ‘n finansiële raadgewer om jou te help assesseer hoe jou sake lyk en die vlak van inkomste en uitgawes wat jy waarskynlik tydens jou aftrede gaan hê, te bepaal. So kan jy ‘n plan wat by jou finansiële doelwitte pas, uitwerk. ‘In die huis van regverdiges is daar skatte. Wat die goddelose inbring, bring vir hom moeilikheid’ (Spreuke 15:6 NLV).

3) Eer God met jou finansies. ‘Vereer die Here met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes. Hy sal jou opgaarplekke vol maak…’ (Spreuke 3:9-10 NLV). Om jou tiende te gee, bring God se seën mee!

4) Vertrou op God om vir jou te sorg. ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg. Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie…’ (Matteus 6:31-34 NLV).

Sielskos: Gal 1-3; Mark 12:1-12; Ps 128; Spr 13:17-19