Is jy bekommerd oor iets? Bid daaroor!

2021-06-16
Filippense 4:6 NLV

As jou emosies nog steeds in ‘n warboel is nadat jy daaroor gebid het – bid nog. Deur die dissipline van gereelde gebed te kultiveer, sal jy die vermoë om kalm en stil te bly, ontdek. Soos jy op die Here wag, sal jy verligting van vrees se greep op jou gees kry. Jy mag dalk in die versoeking kom om te dink dat jou gebed oneffektief was, of dat jy misluk het omdat jou angstigheid teruggekeer het. Sien aanhoudende angs as ‘n teken dat jy meer tyd met God moet deurbring; om die details van jou probleem te hersien, Hom te vertel hoe baie dit jou pla en soms om selfs te erken dat jy bang is dat Hy dit nie gou genoeg sal hanteer nie.

Wanneer jy jou bekommer, kies jy om oor ‘n probleem te wroeg, eerder as om dit heeltemal aan God oor te gee. As jy dus geneig is om jouself baie te bekommer, moet jy baie bid. Bid die volgende: ‘Here, hierdie is u probleem om reg te stel. Neem asseblief beheer. Laat my weet wat U wil hê ek moet doen as ek by die oplossing betrokke moet wees. Ek sien dit egter as opgelos wanneer ek dit aan U oorlaat.’

Jy het die probleem opgelos deur dit aan God oor te gee en jou verantwoordelikheid is nou om op sy leiding te wag. Wanneer Hy wil hê dat jy moet optree, sal Hy dit vir jou duidelik maak. Soos jy op Hom wag, sal Hy jou gedagtes op die volgende stap wat jy moet neem, rig. As daar niks is wat Hy jou lei om te doen nie, doen dan niks. Hy sal dit verder van daar af neem.

Sielskos: 2 Kon 24-25; Luk 1:11-25; Ps 73:17-28; Spr 13:20