In die storm saam met Jesus (2)

2024-09-01
Markus 4:39 NLV

‘n Pastoor beskryf ‘n paar storms in die lewe: ‘Jy kom by die huis, loop in die kombuis in en vind ‘n nota wat sê: ‘Ek wil nie meer in hierdie huwelik wees nie.’ ‘n Donderslag! Jy gaan na die dokter toe vir ‘n roetine ondersoek en die bloedtoetse wys jy het kanker. Die wind huil! Jy gaan in vrede bed toe, net om drieuur die oggend ‘n oproep te kry wat sê dat jou pa aan ‘n hartaanval dood is. Jou skip slaan amper om! Die enigste voorspelbare ding van die lewe se storms is hoe onvoorspelbaar hulle is. Hulle waai in wanneer jy dit die minste verwag.’

Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘…Kom ons vaar oorkant toe…’ (vers 35 NLV). Hulle moes besef het dat die oomblik toe Hy in die boot geklim het, dit onsinkbaar geword het. Inherent aan sy woorde was ‘n belofte van ‘n veilige aankoms. Daar is ‘n verskil tussen om ‘n belofte aan te hoor en dit te glo. Te dikwels versuim ons om te glo dat Jesus sal bereik wat Hy ons belowe het.

Die pastoor moedig ons aan: ‘In daardie oomblikke moet ons onsself daaraan herinner dat die son dalk mag ophou skyn, die wind mag begin waai en die golwe mag begin dein, maar Jesus kom altyd sy beloftes na. Jesus wil hê dat jy moet onthou dat daar geen rede is om te vrees wanneer Hy naby is nie. Hy wil die Kaptein van jou lewe se skip wees. Jy mag dalk nie altyd van Jesus bewus wees nie, maar Hy is daar. Vir daardie dissipels was die veiligste plek in die wêreld presies in daardie boot. Veiligheid is nie die afwesigheid van probleme nie. Veiligheid is die teenwoordigheid van Jesus.’

Sielskos: Fil 2:5-11; Op 19:11-16; Hand 3:1-16; Matt 1:18-21