In die storm saam met Jesus (1)
2024-08-31Markus 4:35 NLV
Om in geloof te groei en Jesus intiem te leer ken, verg dat jy saam met Hom deur storms moet gaan. Die dissipels het dit ontdek toe Jesus vir hulle gesê het: ‘…Kom ons vaar oorkant toe.’ Ons lees verder: ‘Daar het ‘n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die boot gebreek, met die gevolg dat dit alreeds vol water begin word het’ (vers 37 NLV). Hulle verhaal het ‘n gelukkige einde gehad. Jesus het die storm laat bedaar en hulle het in verwondering gesê: ‘…Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see luister na Hom!’ (vers 41 NLV).
Daar is lewensveranderende waarhede wat Jesus jou leer en aspekte van sy karakter wat jy nooit sal verstaan nie, totdat jy ‘n storm saam met Hom meegemaak het. Soms wanneer die storms kom, aanvaar ons dat dit die resultaat is van iets wat ons verkeerd gedoen het, of dat ons nie in die wil van God is nie. Die dissipels was as gevolg van gehoorsaamheid, nie as gevolg van ongehoorsaamheid nie, in die storm.
Verstaan die volgende: Selfs al het jy Jesus met jou hele hart lief, sal jy steeds storms moet trotseer. Soos die dissipels ontdek het, kan die storm kom wanneer jy die naaste aan Jesus is. Hy het nie belowe dat die storm nie die boot sou tref nie, maar dat die storm dit nie sou sink nie. Jy sal die probleme van die lewe óf met vrees óf in geloof trotseer. Vrees konsentreer op die storm; geloof konsentreer op die Verlosser.
Dit klink dalk verbasend, maar ons het storms nodig. Jesus laat ons toe om hulle te trotseer sodat ons (1) sy beloftes sal glo, (2) kalm in sy teenwoordigheid sal bly, en (3) vertroue in sy krag sal hê.
Sielskos: 3 Joh; Judas; Luk 18:31-43; Ps 119:169-176