Hy is dit alles… en meer!

2023-12-25
Jesaja 9:5 NLV

Jack Hayford het geskryf: ‘Wie is hierdie Babatjie van Bethlehem wat vlees geword het, wat liedere van engele opgeroep het, hierdie Christus van Kersfees? Hy is die Verlosser. ‘Deur die Seun het ons verlossing verkry…’ (Kolossense 1:14 NLV). Ons wat in sy Naam glo, ‘…is geskik gemaak om in die erfenis van God se mense te deel…’ (vers 12 NLV), ons is ‘…gered uit die mag van die duisternis en ons [is] oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun’ (vers 13 NLV). ‘n Prys is een keer betaal om ons vryheid, potensiaal en gemeenskap te verseker.

Hy is die Openbarer. ‘Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God…’ (vers 15 NLV). Die sluier van geheimhouding is verwyder. Niemand hoef te wonder hoe God is nie – sy Seun Jesus het gekom om sy hart, sy aard, sy weë en sy wese te openbaar. Hy is die Skepper. ‘omdat God alles deur Hom geskep het…’ (Kolossense 1:16 NLV). Alle dinge – in die hemel en op die aarde – is vir sy gebruik, plesier en heerlikheid gemaak. Hy is die Onderhouer. Hy, die Woord, het alle dinge tot stand gebring (sien Johannes 1:3) en ‘…Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand…’ (Hebreërs 1:3 NLV). Hy is die Leier. ‘Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam…’ (Kolossense 1:18 NLV). Hy het hierdie posisie verkry as gevolg van sy bewese krag en gesag wat in sy opstanding gedemonstreer is. Hy wat alle wesens en magte geskep het (sien v. 16) het Homself binne sy eie skepping ingeperk en vrywillig aan die dood onderwerp (sien Filippense 2:6-9). Tot die hel se ontsteltenis het Hy egter uit die dood opgestaan, aan die Kerk geboorte gegee, en is nou Here oor alles.’

Sielskos: Jes 9:1-7; Luk 2:1-20; Miga 5:2-5a