Hulle sal ‘hande oplê’

2024-08-06
Markus 16:17-18 NLV

Daar is ‘n deel van die Groot Opdrag wat Jesus ons gegee het wat dikwels oor die hoof gesien word. Jesus het ons opdrag gegee: ‘…Hulle sal… in my Naam… siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word.’ Navorsing het onthul dat aanraking die krag het om virusse te beveg, stres te verminder, slaap te verbeter en ons te help om vinniger van beserings te herstel. Een studie het bevind dat ‘n halfuur-lange massering drie keer ‘n week stres met 34 persent verlaag.

Die krag van aanraking op menslike vlak is verstommend. Wanneer jy die krag van God daarby voeg, maak dit ‘n deur na iets wonderbaarliks oop. ‘Dit het so gekom dat Publius se pa in die bed was, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy sy hande op hom gesit en hom gesond gemaak’ (Handelinge 28:8 NLV). Om siekes of mense wat tot die bediening geroep is die hande op te lê, was ‘n algemene praktyk in die Nuwe Testamentiese kerk.

Jy hoef ook nie ‘n predikant te wees om dit te doen nie. Jesus het gesê: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo…’ (Markus 16:17 NLV). As jy ‘n gelowige is wat jou vertroue in Christus geplaas het, is jy gekwalifiseerd. Kan God dit sonder ons doen? Natuurlik. Hy het egter vir ons die voorreg gegee om herleiers van sy krag te wees. Wie weet hoeveel wonderbaarlike oomblikke ons opgeoffer het, omdat ons nie op ‘n vrymoedige Bybelse manier opgetree het deur vir iemand wat siek is te bid, iemand wat geroep is opdrag te gee of iemand aan te moedig wat bloot ‘n hand op hul skouer nodig gehad het nie?

Sielskos: 1 Kro 1-2; Luk 11:14-28; Ps 78:56-64; Spr 20:7-10