Hou ‘n dinkskrum (1)

2021-02-24
Spreuke 24:6 NLV

Daar is wyse en ervare mense rondom jou wat gewillig is om jou te help, kom dus gereeld met hulle byeen en hou ‘n dinkskrum. Maak seker dat almal betrokke weet dat daar geen beperkings, grense of begrotingsbeperkings is nie. Die doel is om alles op die tafel te kry. Jy weet nooit wat jou volgende groot idee is nie, moet jouself dus nie beperk tot wat jy dink tans moontlik of bekostigbaar is nie. Maak ‘n lys van die idees wat julle genereer en nommer hulle. Dit sal help wanneer jy teruggaan om hulle te hersien, sowel as om jou ‘n idee te gee van hoeveel idees uitgedink word.

‘n Ander voorstel is om ‘n bord op die muur te hang waar mense hulle idees kan skryf of teken soos dit by hulle opkom. Dit hou mense aan die beweeg, idees aan die gang en momentum vorentoe. Dis ‘n forum waar kritiek nie toegelaat word nie. Onthou, as iemand jou ‘n idee gee wat jy simpel of onmoontlik noem, is die kans goed dat dit die laaste idee sal wees wat jy van hulle kry. Wie weet, hulle idee mag dalk die groot een wees wat die probleem oplos, die deur oopmaak en vir jou ‘n toekomstige strategie gee.

Nog ‘n woord van raad: Beperk jou dinkskrumsessies tot ‘n uur of so. Alfred Hitchcock het geskerts: ‘Die lengte van ‘n rolprent moet direk verwant wees aan die uithouvermoë van die menslike blaas!’ Dis beter om korter sessies te hê, mense se tyd te respekteer, hulle vir hulle insette te bedank en dan te gaan dink oor wat julle bespreek het, voordat julle later weer bymekaar kom.

Sielskos: Gen 20-23; Matt 18:1-9; Ps 53; Spr 6:9-11