Hou jou gewete skoon
2024-07-211 Timoteus 1:19 NLV
Soms wil ons dit wat ons doen regverdig deur te sê: ‘Dit voel reg, so dit kan nie verkeerd wees nie.’ As God se Woord egter sê dat iets verkeerd is, is dit verkeerd, maak nie saak hoe reg dit voel nie. Die ou spreekwoord: “‘n Goeie gewete is ‘n sagte kussing,” is ‘n halwe waarheid. Die ander helfte moet lees: ‘solank as wat jou gewete in die duidelike beginsels van God se Woord gegrond is en daardeur gerig word.’
As verloste kind van God is jy geroep om volgens sy gebooie, eerder as jou gevoelens, impulse, emosies en populêre denke, te leef. Wanneer hierdie dinge jou lei, kan die winde van versoeking jou van koers af waai en jou op die rotse laat beland. Paulus skryf: ‘Timoteus, my kind, hiermee gee ek my opdragte aan jou, gegrond op die profetiese woorde wat voorheen oor jou uitgespreek is. Mag hulle jou die selfvertroue gee om goed te veg in die Here se veldslae. Hou styf vas aan jou geloof in Christus, en hou altyd jou gewete skoon. Want sommige mense het opsetlik hulle gewete onderdruk, en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely. Himeneus en Aleksander is twee voorbeelde hiervan. Ek het hulle aan Satan oorgegee sodat hulle sal leer om God nie te belaster nie’ (verse 18-20 NLV).
Ons weet nie veel van Himeneus en Aleksander nie, maar wat ons wel weet is ontnugterend en leersaam. Hulle het nie daarin geslaag om ‘n gewete wat in God se Woord gegrond is te ontwikkel, te beskerm en daarvolgens te leef nie en het op die ou einde geestelik skipbreuk gely. Die woord vir jou vandag is dus – jou gewete moet op God se Woord gebaseer wees en jy moet dit altyd skoon hou!
Sielskos: Matt 5:9; Rom 12:17-21; Jak 3:17-18; Rom 14:19