Hou jou geestelike prioritete in plek

2021-12-14
Hebreërs 2:1 NLV

Jou hoogste prioriteit moet altyd jou verhouding met God en die vervulling van sy wil vir jou lewe wees. Moenie toelaat dat hierdie prioriteit ‘gly’ nie. Daar is ‘n ontnugterende illustrasie hiervan in die Ou Testament. ‘n Soldaat moes toesig oor ‘n belangrike gevangene hou. Daar is vir hom gesê: ‘…Pas hierdie man op. As hy om enige rede ontsnap, sal jy doodgemaak word of jy moet ‘n boete van 30 kilogram silwer betaal’ (1 Konings 20:39 NLV). Ten spyte van hierdie waarskuwing, het hy toegelaat dat sy gevangene ontsnap. Hoe het dit gebeur? Deur agtelosigheid en omdat hy met ander dinge besig was. “‘Maar terwyl ek met iets anders besig was, het die gevangene weggekom!’ ‘Nou dan is dit jou fout,’ antwoord die koning van Israel. ‘Jy het die oordeel oor jouself gebring'” (vers 40 NLV).

Dis jou verantwoordelikheid om jou geestelike prioriteite in plek te hou. As jy dit nie doen nie, sal jy ‘n hoë prys betaal. ‘Maar ek bid elke oggend,’ sê jy. Dis goed, maar neem jy die tyd om na God te luister en leiding te ontvang voor jy jaag om jou dag te begin? Daar is tans werk in jou lewe aan die gang. Jy mag dalk nie heeltemal daarvan bewus wees nie, maar daarsonder sal jy nooit gereed wees om dit wat God vir jou in gedagte het, te hanteer nie. Die Bybel sê: ‘Maar Jesus het Hom gereeld in ‘n verlate plek afgesonder om te bid’ (Lukas 5:16 NLV). Om tyd met God te bestee, is die prys wat jy moet betaal om Hom te hoor en sy wil te doen. Geestelik gesproke, is daar geen kortpaaie om by enige plek wat dit werd is om heen te gaan, uit te kom nie.

Sielskos: Miga 1-4; Joh 19:17-30; Ps 105:16-22; Spr 30:10-14