Hou by God se plan (1)

2022-03-22
Efesiërs 1:11 NLV

God sê: ‘Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde’ (Openbaring 22:13 NLV). God bepaal die eindresultaat wat Hy wil hê en begin dan by die begin en werk dan daarnatoe. Josef het ontdek dat selfs wanneer jou familie teen jou draai, God se plan steeds in werking is. Toe hy daarop terugkyk, het Josef gesê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Moet egter nie ‘goed’ met ‘gemaklik’ verwar nie. Wanneer God jou korrigeer en jou lei, voel dit nie altyd goed nie. Dit is egter goed! Dawid het gesê: ‘Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:71 NLV).

Indien jy nie seker is van God se plan nie, soek Hom totdat Hy dit vir jou wys. Ander dinge mag dalk dringender lyk, maar niks is belangriker nie. As jy reeds God se plan ken, kan jy seker wees dat geen menslike optrede dit kan kanselleer nie. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie…’ (Psalm 138:8 NLV). Daar is geen situasie wat Satan kan uitdink waarvoor God nie reeds vir ‘n uitweg gesorg het nie.

Paulus stel ons gerus: ‘…God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Dis in die tye wat jy getoets word, wat jy ontdek dat God getrou is. Hy sal jou strek, maar nooit verder as jou breekpunt nie. Sy plan vir jou is om sterker en gereed vir dit wat volgende op sy agenda is, uit hierdie ervaring te kom.

Sielskos: Job 15-17; Luk 19:1-10; Ps 13; Spr 8:14-16