Hou aan verbeter

2018-04-29
1 Korintiërs 9:27 NLV

Paulus skryf: ‘Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ‘n prys te wen wat gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ‘n ewige prys. Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ‘n bokser wat met elke hou tref. Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie’ (verse 24-27 NLV). Tensy jy beheer van jou lewe neem, sal jy altyd met die wete lewe dat jy nie aan jouself behoort nie. Jy behoort aan wie of wat ook al jou beheer. Om te verbeter, moet jy probeer om hierdie drie dinge altyd voor oë te hou: 1) Lees. Dawid het gesê, ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag’ (Psalm 119:97 NLV). Dissiplineer jouself om elke dag iets te lees wat jou geestelik, emosioneel, verhoudingsgewys en beroepsgewys sal help. Plaas jou Bybel bo-aan die lysie van dit wat jy wil lees. 2) Belonings. Die skrywer Mike Delaney het opgemerk, ‘Enige besigheid of industrie wat die luiaards en die ywerige werkers ewe veel beloon, sal vind dat hulle kort voor lank met meer luiaards as ywerige werkers sit.’ 3) Resultate. Die volgende keer wat jy voor ‘n taak te staan kom en aan dit wat gemaklik is om te doen eerder as wat reg is dink, verander jou fokus. Tel die voordele daaraan verbonde om te doen wat reg is en begin met die taak. Moenie op die werk fokus nie, fokus op die resultate.

Sielskos: Gal 5:22; Luk 10:25-37; Ef 4:31-32; Spr 2:4