Hou aan leer
2020-04-16Spreuke 15:14 NLV
Daar word gesê dat ons meer as 80 persent van dit wat ons op skool en universiteit leer, vergeet. Hoekom dan moeite doen? Is opvoeding dan regtig die belegging werd? Dit is. Daar is baie geldige redes om te leer, selfs al vergeet ons baie daarvan. Hier is vyf van die belangrikste redes: 1) Die belangrikste funksie van die leerproses is die selfdissipline en beheer wat dit kweek. Goeie studente leer om aanwysings te volg, opdragte uit te voer en hulle intellektuele kapasiteit tot ‘n konstruktiewe resultaat aan te wend. Dis vaardighede wat jy nodig het om sukses in die lewe te behaal. 2) Selfs al kan jy nie die feite en konsepte oproep nie, weet jy dat dit bestaan en waar om dit te kry. Jy kan dus die informasie vind wanneer jy dit later nodig kry. 3) Ou leringe maak nuwe leerprosesse makliker. Elke intellektuele oefening gee jou meer leidrade wat toekomstige idees en konsepte aan mekaar skakel en jy word deur die leerproses verander. 4) Jou brein is soos die programmering op jou rekenaar. Jy vergeet nie regtig dit wat buite die bereik van jou geheue is nie. Die inligting word steeds in jou brein gestoor en sal weer na vore tree wanneer jou brein behoorlik gestimuleer word. 5) Jy word deur die invloed van die mense wat jou leer, gevorm. Die Bybel sê: “‘n Gelowige smag altyd na nog meer kennis en insig…” (DB). Miskien wens jy dat daar ‘n makliker manier was om die menslike gedagtes te vorm, eerder as die stadige, pynlike ervaring van onderwys. Totdat daar egter ‘n ‘kennispil’ ontwerp word, sal die outydse benadering die ding moet doen.
Sielskos: Lev 18-20; Mark 1:21-34; Ps 43; Spr 10:10