Hoekom moet jy die Bybel bestudeer? (3)
2020-06-272 Timoteus 3:17 NLV
Daaglikse Bybelstudie rus jou vir jou Godgegewe lewenstaak toe. Paulus skryf: ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en… wat verkeerd is in ons lewe. Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl. Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen’ (verse 16-17 NLV). Volgens Paulus is die hele Skrif daar om ons te leer – maar om ons wat te leer? 1) Leerstellings en opvoeding. Dit sal struktuur aan jou denke gee wat noodsaaklik is, want as jy nie reg dink nie, lewe jy nie reg nie. Wat jy glo bepaal uiteindelik hoe jy optree. 2) Teregwysing. Dit sal jou sê waar jy die grense oorskry. Die Bybel leer jou wat sonde is en wat God vir jou lewe wil hê. 3) Regstelling. Het jy ‘n kas in die huis waar jy alles waarvoor jy nie ‘n ander plek het nie, stoor? Jy druk dit alles in en een dag wanneer jy die kas oopmaak, tuimel alles uit en jy moet dit alles skoonmaak en plek daarvoor kry. Die Bybel is so; dit maak die kasdeur op jou lewe oop en voorsien ‘n suiwerende dinamiek. 4) Opleiding in geregtigheid. Nadat Paulus vir ons die negatiewe uitgewys het, gee hy vir ons positiewe riglyne om in ons lewens te volg, sodat jy ‘ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê [jy] moet doen.’ Het jy al ooit gewens dat jou lewe meer effektief vir Christus Jesus is? Wat het jy gedoen om jouself voor te berei? Bybelstudie is die belangrikste stuk gereedskap om ‘n effektiewe dienaar van Jesus Christus te word. Niks kan die Bybel se plek inneem nie!
Sielskos: Jer 4-6; Luk 3:1-10; Ps 59:9-17; Spr 14:23-24