Hoekom moet jy die Bybel bestudeer? (1)
2020-06-251 Petrus 2:2 DB
Dis noodsaaklik vir jou geestelike groei om daagliks Bybelstudie te doen. Professor Howard Hendricks skryf: “Toe ons kinders klein was, het ons hulle groei met ‘n potlood agterop die kasdeur gemerk. Soos hulle groter geword het, het hulle ons gesmeek om te meet hoe lank hulle geword het en dit op die kasdeur te merk. Dit maak nie saak hoe klein die inkrimente was nie, hulle het in opwinding op en af gespring om hulle vordering te sien. Een dag nadat ek een van my dogters gemeet het, het sy my die tipe vraag gevra wat jy wens kinders nie wil vra nie: ‘Pappa, hoekom hou grootmense op groei?’ Hoe kon ek verduidelik dat grootmense nie ophou groei nie – ons groei net in ‘n ander rigting in? Ek weet nie wat ek vir haar gesê het nie, maar tot vandag toe vra die Here nog vir my: ‘Hendricks, word jy oud, of word jy groot?'” Wat van jou? Hoe lank is jy al ‘n Christen? Nege maande? Nege-en-dertig jaar? Die groot kwessie is hoe baie jy al gegroei het. Hoe vorder jy op God se maatstok? Dis wat die apostel Paulus bedoel het toe hy geskryf het: “‘n Babatjie wat pas gebore is, is dors vir ‘n bietjie melk. Net so moet julle altyd die skoon, geestelike melk wil hê. Dit sal julle geestelik groot en sterk laat word as mense wat God s’n is.” Net soos ‘n baba sy bottel gryp, gryp jy die Bybel. Die baba het melk nodig om sy fisiese lewe te onderhou, jy het die Bybel nodig om jou geestelike lewe te onderhou. Die belangrikste rede om dus die Skrif te bestudeer, is dat dit geestelike groei aanwakker. Dis God se primêre manier om jou as individu te ontwikkel.
Sielskos: Hosea 11-14; Luk 2:34-40; Ps 21; Spr 14:17-20