Hoekom kies God swak mense om sy wil te doen?
2024-08-281 Korintiërs 1:27 NLV
Antwoord: Omdat alle mense swak is! Moses se verhouding met God word in hierdie merkwaardige woorde beskryf: ‘Binne-in die tent het die Here met Moses gepraat soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk…’ (Eksodus 33:11 NLV). Was Moses dan perfek? Nie naastenby nie. Hy het die eerste veertig jaar van sy lewe as ‘n prins in farao se paleis en die volgende veertig jaar as veewagter in die woestyn, deurgebring. Die Bybel vertel ons van die spanning in sy huwelik en sy tye van stres en wanhoop. Moses was ‘n skaam stamelaar wat nie twee woorde bymekaar kon sit sonder om verbaal te struikel nie. Die Bybel verwys na die Israeliete as ‘n ‘gemeente,’ wat Moses dan ‘n pastoor maak. Geen pastoor het al meer moeilikheid met ‘n gemeente gehad as Moses nie.
Jy vra: ‘Hoekom word daar op Moses se tekortkominge gefokus?’ Om jou te bemoedig! Om jou te laat weet dat jou swakpunte jou nie diskwalifiseer nie en jou terkortkomings nie dit wat God deur jou kan doen, beperk nie. Paulus skryf: ‘…dink maar net terug aan hoe julle eie situasie destyds was toe God julle geroep het. Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle, nie baie magtiges nie, nie baie uit vooraanstaande families nie. Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dommigheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na totale swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtige skaam te laat kry… Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie’ (1 Korintiërs 26-27, 29 NLV).
Sielskos: 2 Kro 29-31; Luk 17:20-37; Ps 119:137-144; Spr 22:11-13