Hoekom kerkbywoning goed is vir jou
2024-07-19Psalm 84:11 NLV
Jesus het gereeld kerk bygewoon. ‘…Hy [het] soos gewoonlik op die Sabbat na die sinagoge gegaan…’ (Lukas 4:16 NLV). Die apostels het ook op ‘n gereelde basis kerk toe gegaan: ‘Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom…’ (Handelinge 2:46 NLV). Dawid was ook lief vir God se huis. Hy het gesê: ‘Een dag in u tempel is beter as duisend elders! Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as dat ek woon in huise van goddeloses’ (Psalm 84:11 NLV).
Het jy God se huis lief? Jy behoort, omdat sy Woord daar aan jou verduidelik sal word, jy strategieë vir die lewe sal kry, jou geestelike gawes sal ontdek en verhoudings wat jou in die moeilike tye onderhou, sal vorm. Waar anders kan jy dit alles vind?
Yale Universiteit het ‘n studie gedoen wat bevestig het dat mense wat kerk gereeld bywoon, gelukkiger en gesonder is en langer lewe as diegene wat dit nie doen nie. Die studie het bevind dat kerkgangers laer bloeddruk, stres en ‘n groter immuniteit teen siektes het, terwyl nie-kerkgangers in die groep ‘n verkorte lewe – gelyk aan die van rokers, het. Een van die navorsers het vir ‘n tannie van tagtig jaar oud, wat op daardie oomblik besig was om op ‘n trapmeul te hardloop, gevra wat haar geheim is. Sy het gesê: ‘Wanneer jy saam met God loop, het jy ‘n doel, dus leef jy langer. Jy het ook vrede in God, dus leef jy beter.’
Dink daaroor: as jy dit alles in ‘n pil kon kry, hoeveel sou jy daarvoor betaal? Sou iemand jou moes forseer om dit te neem? Nee? Maak dan seker dat jy Sondag in die kerk is!
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Luk 8:1-15; Ps 123; Spr 18:13-16