Hoe om mense wat seer het, te help

2021-07-05
Prediker 10:12 NLV

Kry jy maklik seer? Maak jy ander mense seer sonder om dit te bedoel? Daar is drie dinge wat dit veroorsaak: 1) Ons praat uit ons eie seer uit. Die Duitse digter, Hermann Hesse, het geskryf: ‘As jy iemand haat, haat jy iets in hom of haar wat deel is van jouself. Iets wat nie deel is van onsself nie, pla ons nie.’ Dit help om te onthou dat mense dikwels kwetsend in reaksie op dit wat binne-in hulself aan die gebeur is, optree.

2) Wanneer ons seer het, raak ons kleinserig. Kom ons sê jy ignoreer die splinter in jou vinger, wat dan geïnfekteer raak. Iemand raak aan jou vinger en jy skree in pyn: ‘Jy het my seergemaak!’ Die ware probleem is egter die splinter waaraan jy nie aandag gegee het nie. Mense wat seer het, oorreageer, oordryf en oorbeskerm. Gewoonlik is dit die persoon met die meeste pyn wat die meeste skade aanrig.

3) Dit neem tyd om ons seer te hanteer. Vinnige oplossings werk nie. Die barmhartigste ding wat jy vir iemand wat seer het kan doen, is om vir hulle te wys dat jy omgee. As hulle gewillig is, kan jy hulle ook help om deur hulle kwessies en pyn te werk.

Goeie dinge kan uit slegte situasies ontstaan. ‘n Skoonmaakdiensmaatskappy wat in ‘n rioolpyp onder ‘n stad gewerk het, het een-en-sestig diamantringe, verskeie antieke muntstukke en silwerware gevind. Dit was ‘n onaangename werk – maar die werkers kon die waardevolle items wat hulle gevind het, vir hulself hou. Jy mag dalk nare dinge moet hanteer, maar in die proses sal jy dalk skatte ontdek wat jy nie geweet het bestaan nie en na al jou harde werk, sal jy met ‘n wonderlike verhouding opeindig.

Sielskos: Jer 41-44; Luk 5:1-11; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7