Hoe om jouself te vergewe

2021-12-27
Jesaja 43:25 NLV

God sê in sy Woord: ‘Ek, ja, Ek alleen, is die Een wat julle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie. Dink saam met My oor die verlede. Laat ons hierdie saak uitpraat. Stel julle saak en regverdig julleself’ (verse 25-26 NLV). Indien jy vandag jouself veroordeel omdat jy dink dat jou sondes te groot is om God se genade te verdien, gaan terug en lees hierdie Skrifgedeeltes weer aandagtig deur. Hoekom het God gesê Hy sal jou sondes vergewe? ‘…ter wille van Myself…’ Wat moet jy dus doen? ‘…Stel julle saak en regverdig julleself.’ Hoekom vind ons dit so moeilik om God se vergifnis te aanvaar?

1) Omdat ons in sekere gevalle voel dat ons maai wat ons gesaai het.

2) Omdat ons al iemand anders vir presies dieselfde ding wat ons self gedoen het, veroordeel het.

3) Omdat ons dink dat God daarvan hou om ons aan ‘n lyntjie te hou, sodat ons twee keer sal dink voor ons weer dieselfde sonde pleeg.

4) Omdat ons ouers, toe ons ongehoorsaam was, sekere voorregte weggeneem het totdat ons onsself weer bewys het.

5) Omdat ons dink dat ons God se genade moet verdien.

Wanneer jy egter weier om jouself te vergewe, gee jy te kenne dat jou oortredings buite die bestek van God se genade val. Trots is ‘n groot sonde! Hier is nog ‘n gedagte. Wanneer jy altyd ‘n probleem met ander mense het, mag jy dalk iemand soek wat jou aanstoot kan gee. Op hierdie manier kan jy uitwys hoe sleg die ander persoon is en beter oor jouself voel. Wanneer jy egter ‘n nederige houding inneem en daaraan werk om jouself te vergewe omdat God jou vrygespreek het, is dit makliker om ander mense se foute te vergewe.

Sielskos: 1 Kor 7-9; Matt 2:1-8; Ps 97; Spr 31:22-24