Hoe om jou verhoudings te verryk en te versterk

2024-03-22
Galasiërs 5:22 NLV

Jy kan enige verhouding verryk en versterk deur die vrugte van die Gees te ontwikkel en uit te leef. Die Bybel sê dat ons deur die Gees gevul moet wees (sien Efesiërs 5:18), en deur die Gees gelei moet word (sien Galasiërs 5:16). Om met die Gees gevul te wees, beteken dat jy ‘n houer is, terwyl jy ‘n uitdeler is wanneer jy deur die Gees gelei word – ‘n houer wat God kan vul en in ander se lewens kan uitstort. ‘Wat is hierdie vrugte waarvan jy praat?’ vra jy. Die Bybel beskryf dit as volg: ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV).

Kom ons kyk noukeurig na hierdie nege verskillende karaktereienskappe. Die eerste drie – liefde, vreugde, vrede – is vrugte wat die atmosfeer verander. Soos jy jou aan die Heilige Gees oorgee, sal Hy ‘n nat kombers oor die onvriendelike woorde wat jy dalk wil sê, gooi. Hy sal ‘n vuur in jou hart bou wat warmte na ‘n koue atmosfeer en liefde na ‘n bitter, wraaksugtige atmosfeer, sal bring.

Die volgende drie vrugte – geduld, vriendelikheid, goedheid – is vrugte wat jou houding verander. Elkeen van ons het die potensiaal om ‘n slegte houding te hê. God laat ons soms deur moeilike situasies gaan om dit wat regtig binne ons is, te openbaar. Wanneer ons ons eie hulpeloosheid, swakheid en wanhoop sien, laat dit ons uitroep: ‘God, ek het U nodig!’

Die laaste drie vrugte – getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing – is eienskap-veranderende vrugte. Deur die Heilige Gees het jy krag en vermoëns wat jy aan niemand behalwe God kan toeskryf nie. Jy het ook vrede wat menslike begrip te bowe gaan (sien Filippense 4:7).

Sielskos: Hos 1-5; Matt 26:26-46; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9