Hoe om jou roeping te verstaan
2022-11-24Efesiërs 2:10 NLV
Toe God vir Moses geroep het om Israel uit Egipte te red, het Moses dit eers op sy eie manier probeer doen. Nadat hy ‘n Egiptenaar doodgemaak het om ‘n Israeliet se lewe te red, was hy vir vyf-en-veertig jaar voortvlugtig. Nadat hy in die woestyn geleef en sy les geleer het, het hy teruggekeer om God se wil – op God se manier – te doen. Almal van ons word geroep om God se wil op God se manier te doen. Jy vra: ‘Maar hoe kan ek weet wat my roeping is?’
Jy begin deur die volgende vrae te beantwoord: 1) Wat is jou geestelike gawes? ‘…God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee…’ (1 Petrus 4:10 NLV). Laat God jou, deur middel van jou diepste begeertes, daardie kernbevoegdhede wys waarmee jy die beste geskik is om Hom te dien.
2) Is daar iemand wat jou kan mentor en opbou? Dis deel van jou pastoor se werk: ‘om God se mense toe te rus vir die werk wat hulle in sy diens moet doen. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou’ (Efesiërs 4:12 NLV). Jy het hulp nodig; jy kan nie alleen daar kom nie!
3) Is jy by jou plaaslike kerk betrokke? ‘Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam en as ledemate van hierdie één liggaam hoort ons saam en het ons mekaar nodig’ (Romeine 12:4-5 NLV).
4) Is jy gewillig om daar waar ‘n behoefte is, te dien? ‘…Met hierdie gawes moet julle mekaar dien…’ (1 Petrus 4:10 NLV). As jy wil weet wat jou roeping is, begin dien en God sal dit aan jou openbaar.
Sielskos: 2 Kron 6-8; Joh 11:17-27; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12