Hoe om geduld te ontwikkel (1)
2023-06-19Spreuke 16:32 NLV
Die Bybel sê dat wanneer jy bid, God dadelik kan antwoord. Nêrens in die Bybel word egter beloof dat jy ‘onmiddellike geduld’ sal ontvang nie. Geduld is ‘n karaktereienskap en karakter word gebou terwyl jy ‘n leeftyd lank saam met God deur goeie en slegte tye wandel. Een Bybelonderwyser sê: ‘Geduld is net geloof wat sy tyd neem.’ Hier is hoe God geduld in ons ontwikkel:
1) Onderbrekings. Jy gaan sit om aandete te eet en jou foon begin lui. Jy is in die bad en iemand lui die voordeur se klokkie. Jy werk vinnig om ‘n spertyd te haal en besoekers daag op. Daar word gesê dat terwyl Brahms sy beroemde wiegielied gekomponeer het, het hy so baie onderbrekings teëgekom dat dit hom sewe jaar geneem het om die stuk te komponeer. Iemand het geskerts: ‘Wanneer jy ‘n wiegielied skryf, het jy al daardie onderbrekings nodig om te verhoed dat jy voor die klavier aan die slaap raak!’
2) Vertragings. Ons haat dit om te wag. Ons het ‘n mikrogolf-ingesteldheid. Ons wil dit wat ons wil hê binne sekondes kry. Ons het kitskos en kitskoffie. Ons is soos die man wat gebid het: ‘Here, gee my geduld en gee dit nou dadelik vir my!’
3) Irritasies. Lang rye, verlore sleutels, telefoonoproepe, koue kos, pap bande, badkamers wat beset is, verkeersknope… die lys is eindeloos. Het jy geweet dat 90 persent van mense wat hartaanvalle kry, die ‘gejaagde’ Tipe A persoonlikheid het? Die Bybel sê: ‘…Oorhaastigheid stuur jou in die verkeerde koers’ (Spreuke 19:2 NLV). Ons praat van Job se geduld, wat gesê het: ‘…deur my worsteling sal ek gretig wag op die vrylating’ (Job 14:14 NLV).
Bid daaroor, oefen geduld uit en wees vol vertroue in God!
Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Matt 19:15-30; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23