Hoe om effektief te bid

2020-12-21
Jakobus 5:16 AFR53

Die Bybel sê: ‘…Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag. Elía was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie’ (verse 16-17 AFR53). Daar is twee woorde in hierdie Skrifgedeelte waaraan jy spesifiek aandag moet gee:

1) ‘Vurige.’ Dit beskryf die intense hitte wat jy van ‘n brandende vuur voel. As jy nie versigtig is nie, kan jy dalk in die strik trap om te dink dat jy sterk emosies moet ‘opwerk’ voor jy bid of terwyl jy bid, sodat jou gebede gehoor en beantwoord kan word. Dis nie so nie! Jou gevoelens mag jou dalk roer, maar net jou geloof sal God roer. Die Bybel sê: ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (Hebreërs 11:6 NLV). Net omdat jy gister God se teenwoordigheid op ‘n spesiale manier aangevoel het toe jy gebid het, maar dit nie vandag voel nie, beteken nie dat jou gebede vandag nie aangehoor en beantwoord sal word nie.

2) ‘Regverdige.’ Elia was ‘n regverdige man, maar hy was verseker nie ‘n perfekte man nie. Ja, sy gebede was effektief. Hy was egter ook geneig om te vrees en het soms in ‘n diep depressie verval. Hier is die sleutel: Omdat jy in Christus se geregtigheid geklee is, is jy altyd waardig en aanvaarbaar voor God, dus kan jy vol vertroue wees dat jou gebede gehoor en beantwoord sal word (sien Romeine 5:17). Met hierdie wete, kan jy effektief bid.

Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 21:15-25; Ps 47; Spr 31:6-9