Hoe om Bybelstudie te benader
2021-08-22Psalm 19:9 NLV
Die manier waarop jy Bybelstudie benader is noodsaaklik. Jy moet twee dinge doen: 1) Dit met integriteit benader. Toe ‘n nuwe Christen een keer tydens ‘n Bybelstudiegroep sê: ‘Ek sukkel om sekere dele van die Bybel te glo,’ het die ander lede geglimlag en hande geklap. Hulle het dit nie gedoen omdat ongeloof goeie nuus is nie; hulle het dit gedoen omdat hy uiteindelik eerlik genoeg was om sy vertwyfeling te erken. Moenie bekommerd wees nie; God is nie kwaad vir jou nie. Totdat jy gewillig is om oor jou vertwyfeling te praat, kan jy hulle nie oplos nie. Toe Tomas die opstanding betwyfel het, het Jesus opgedaag om hom daarvan te oortuig. Hy sal ook vir jou opdaag! Jesus het gesê: ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid… Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My ontvang het, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13-14 NLV).
2) Dit met verwagting lees. Sodra jy die skrywer van ‘n boek ontmoet het en sy handtekening op die boek gekry het, voel jy anders oor die boek. Jy koester dit. Wanneer jy die Bybel met ‘n hart vol verwagting lees, ontmoet jy die skrywer daarvan. Soos jy sy woorde lees, begin jy sy teenwoordigheid aanvoel en begin jy besef dat Hy persoonlik met jou praat. Jesus het gesê: ‘Dit is die Gees wat lewend maak, die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe’ (Johannes 6:63 NLV). Wanneer jy met ‘n honger en verwagting na die Skrif toe kom, gaan jy nooit teleurgesteld daarvan weg nie.
Sielskos: Jos 2:1-24; Hand 9:20-30