Hoe lyk jou gesindheid?

2019-06-21
Filippense 2:5 NLV

‘n Vlieënier sal vir jou sê dat ‘n vliegtuig van tyd tot tyd herbalanseer moet word. Nadat die vliegtuig deur storms gevlieg het, moet dit weer in lyn ingestel word. Dieselfde gebeur op jou geestelike reis. Die storms in die lewe kan jou van koers af slaan en jou ongebalanseerd laat. Onverwagte ‘weerstoestande’ soos siekte, depressie, werkloosheid, egskeiding, teleurstelling en die dood kan jou forseer om rigting en strategie te verander. Dis hoekom jy gereeld jou gesindheid moet nagaan en aanpas. Waarmee worstel jy tans wat jou gesindheid beïnvloed? Paulus skryf: ‘Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees.’ Is so ‘n lewenswyse moontlik? Ja, maar jy moet dit ‘n prioriteit maak en elke dag nastreef. Josua wou ‘n weermag van klakouse in ‘n weermag wat die Beloofde Land kon binneval, omskep het. Dus het God vir hom hierdie formule vir sukses gegee: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV). Probeer die ‘drie-by-vyf tegniek.’ Identifiseer elke week ‘n Skrifgedeelte wat betrekking het op ‘n area waarin jy wil groei, skryf dit op ‘n drie-by-vyf kaartjie neer en memoriseer dit. In een jaar sal jy dan twee-en-vyftig teksverse hê waarop jy kan staan. Dink net watter impak dit op jou lewe sal hê! Nie net sal die verkeerde gesindheid die regte gesindheid word nie, maar jou lewe sal in die regte rigting begin beweeg.

Sielskos: Jer 10-13; Mark 15:33-47; Ps 17; Spr 14:13-16