Hoe lyk jou geestelike aptyt? (2)
2021-10-172 Kronieke 15:15 NLV
Langdurige uithongering kan ‘n diepgaande effek op jou gesondheid hê. Jy verloor jou vermoë om helder te kan dink. Jou visie raak vaag. Jou krag kwyn weg en jy hou op om produktief te wees. As jy lank genoeg sonder voeding gaan, is die kans goed dat jy in die hospitaal sal opeindig en deur ‘n buis gevoed word.
Raai wat? Dis dieselfde met jou geestelike lewe. Jesus het gesê: ‘…’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond’ (Matteus 4:4 NLV). Hoekom bestee ons dan nie meer tyd daaraan om die Bybel te lees nie? Ons weet dat dit noodsaaklik vir ons geestelike en emosionele gesondheid is. Tog doen ons dit nie, of ons doen dit nie gereeld nie. Hoekom nie?
1) Omdat ons nie gemotiveerd is nie. Ons het nog nie die vreugde om persoonlik groot waarhede in God se Woord te ontdek, ervaar nie. Ons is tevrede daarmee dat ander mense ons geestelike kos vir ons gee. Wanneer jy egter ernstig daaroor raak om self die Bybel te bestudeer, sal jy nooit weer met tweedehandse kennis tevrede wees nie.
2) Omdat ons nie weet hoe om dit te doen nie. Ons hoor ‘n wonderlike preek en dink: ‘Hoekom het ek dit nie raakgesien nie?’ Omdat die meeste predikers ure daaraan toewy om die Skrif te bestudeer – en ons doen nie!
3) Omdat ons lui raak. Bybelstudie verg selfdissipline, tyd, inspanning, konsentrasie en volharding. Die meeste groot waarhede lê nie op die oppervlak nie; jy moet daarvoor grawe. In die Ou Testament, het Israel: ‘…gretig die wil van die Here gesoek en Hy het Hom deur hulle laat vind. Die Here het hulle rus gegee van hulle vyande aan alle kante.’ God sal dit vir jou ook doen!
Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16