Hoe lyk jou geestelik aptyt? (3)

2021-10-18
Psalm 119:143 DB

Dank God vir vaardige dokters wat weet hoe om siektes te diagnoseer en medikasie voor te skryf wat gesondheid en genesing meebring. Hier is egter iets vir jou om oor na te dink: wat as baie van ons stresverwante siektes deur meditasie, eerder as medikasie, met meer sukses behandel kan word? Die Psalmdigter het geskyf: ‘Al kom ek vragte vol probleme teĆ«, nogtans geniet ek dit om u voorskrifte te lees en daaroor na te dink. U voorskrifte is vir altyd waar en reg, leer my om dit te verstaan sodat ek ‘n slag regtig kan lewe… Almal wat u wet liefhet, leef reg, hulle val nie oor die sonde nie’ (verse 143-144, 165 DB).

Wanneer daar ‘n chemiese wanbalans in jou liggaam is, kan dit met medikasie, dieet en daaglikse oefening behandel word. Wanneer jou siel egter tot die punt van disfunksie uitgehonger is, moet dit met God se Woord behandel word. Dit beteken nie dat jy deur ‘n paar verse spoedlees en dan jaag om jou dag te begin nie. Skoenlappers dek baie grond, maar net bye maak heuning bymekaar! Soms moet jy by ‘n spesifieke Skrifgedeelte stilstaan totdat jy die heuning daaruit kry; om daarmee te lewe en daaroor te mediteer totdat dit wortel skiet en in jou begin groei.

Dit verg tyd om ingeburgerde karaktereienskappe te verander. God mag dalk vir verskeie weke of maande aan een area in jou lewe werk. Nuwe gewoontes en denkwyses neem tyd om gevestig te word. Jy moet dit besef en God toelaat om nuwe waarhede in jou lewe te openbaar en te versterk. Moenie jouself flous deur te dink omdat jy ‘n sekere Skriftuurlike waarheid gelees het, dit onmiddellike verandering teweeg gaan bring nie. Dit moet daagliks toegepas word, wat tyd en meditasie verg.

Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 4:27-38; Ps 87; Spr 24:1-4