Hoe ‘honger’ is jy?

2019-07-17
Psalm 107:9 NLV

Suksesvolle mense is dikwels net mense wat ‘n bietjie hongerder en dorser vir sukses as die res van ons was. Wat ons begeer het, het hulle nagejaag. Napoleon is in armoede gebore. Sy klasmaats op skool het hom gespot. Hy het homself egter tot sy boeke gewend, in sy studies uitgeblink en die slimste student in sy klas geword. Voor sy lewe verby was, het hy groot dele van die wêreld verower! Wanneer ‘n saailing sy weg deur rotse moet veg om sonlig en suurstof te kry en dan deur storms en ryp moet worstel om te oorleef, kan jy van een ding seker wees: sy wortelstelsel sal sterk en sy hout veerkragtig wees. Die natuur leer ons dat dit onmoontlik is om sukses sonder teenspoed te behaal. As jy suksesvol is en nie swaarkry ervaar het nie, kan jy maar vir seker weet dat iemand anders dit namens jou ervaar het. In alle gevalle, is daar geen prestasie sonder teenspoed nie. Die toets van jou karakter word bepaal deur wat dit neem om jou te ontmoedig en te laat tou op gooi. Dr G. Campbell Morgan vertel van ‘n man wie se winkel in die groot brand in Chicago in 1871 tot op die grond afgebrand het. Die volgende dag het hy met ‘n tafel daar aangekom wat hy in die as en puin van sy winkel opgestel het. Op die tafel het hy ‘n plakkaat staangemaak wat gelees het: ‘Alles verloor behalwe vrou, kinders en hoop. Besigheid is weer van môreoggend af oop.’ Salomo het gesê: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV. Jy sê jy wil suksesvol wees? Die vraag is – hoe ‘honger’ is jy?

Sielskos: Hand 18-19; Matt 10:11-20; Ps 146; Spr 16:4-5