Het jy jou rug gedraai?

2021-03-26
Matteus 26:31 DB

Die aand voor sy dood, het Jesus die volgende afkondiging gemaak: ‘…Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai en maak of julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ Maar Ek sal uit die dood opgewek word. Dan sal Ek Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom’ (verse 31-32 DB).

Dink daaroor! As die dissipels wat vir drie-en-‘n-half jaar elke oomblik met Jesus deurgebring het hulle rûe kon draai, dan kan enigeen dit doen. Petrus kon sy ore nie glo nie. ‘…Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie’ (vers 33 DB).

Dit was nie een van Petrus se fyner oomblikke nie. Hy was arrogant en selfversekerd: ‘Ek sal dit nooit doen nie.’ Petrus se vertroue was in Petrus se krag. Tog sou Petrus se krag hom faal. Jesus het dit geweet: “‘Simon, Simon!’… ‘Let op, die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun'” (Lukas 22:31-32 NLV).

Satan sou Petrus aanval en hom toets. Satan sou hom egter nooit opeis nie. Hoekom nie? Omdat Petrus sterk was? Nee – omdat Jesus sterk was. Hier is ‘n wonderlike waarheid: Jesus bid ook vir jou: ‘…Heilige Vader, bewaar hulle op grond van u Naam wat U aan My gegee het… Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat op grond van hulle boodskap nog in My sal glo’ (Johannes 17:11,20 NLV). Sal God Christus se gebede vir jou beantwoord? Natuurlik sal Hy!

Sielskos: Job 40-42; Matt 25:31-40; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29