Het jy God daaroor geraadpleeg?

2021-08-18
Josua 9:14 NLV

Wanneer jy God raadpleeg voor jy besluite neem, hou dit jou uit allerhande soorte moeilikheid uit. Josua het dit op die harde manier geleer. Hy het pas Jerigo, die grootste stad in die Beloofde Land, ingeneem. Op die hakke van hierdie oorwinning, het die Israeliete gevoel dat hulle nie God rakende hulle volgende beweging hoef te raadpleeg nie.

Oormatige selfvertroue kan egter dodelik wees! Die Gibeoniete, een van die vyandige nasies van die Beloofde Land, het besef dat hulle nie God se mense kan verslaan nie, dus het hulle onderhandelaars gestuur om sogenaamde vrede met hulle te gaan maak. Dit het gewerk. Selfs al het die Gibeoniete gejok, het Josua aangeneem dat hulle die waarheid praat en het ‘n vredesverdrag met hulle geteken. Van daardie dag af was die Gibeoniete ‘n konstante doring in Israel se vlees. Josua was baie spyt dat hy nie ‘…by die Here gaan raad vra [het] nie.’ Sommige van die oudste gesange bevat die grootste waarhede. Hier is een van hulle: ‘Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart, net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!’

Is jy iemand wat dinge uit jou eie krag wil laat gebeur? Daar is ‘n fyn lyn tussen Godgegewe selfvertroue en selfonderhoudendheid; en wanneer jy daardie lyn oorsteek kan dit jou duur te staan kom. As jy ‘n geneigdheid het om te vinnig te beweeg of vanuit jou eie sterkpunte en vaardighede op te tree, lees die volgende woorde versigtig en biddend: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal vir jou die regte pad wys. Moenie jouself oorskat nie…’ (Spreuke 3:5-7 NLV).

Sielskos: Rig 16:1-19:15; Luk 14:25-35; Ps 119:89-96; Spr 18:1-5