Herstel beskadigde mense (3)

2019-05-12
Johannes 4:4 NLV

Hoekom sê die Bybel dat Jesus deur Samaria moes reis? Omdat Hy ‘n beskadigde vrou moes verlos en die evangelie vir die eerste keer aan Samaria moes bekendstel. Dink aan die situasie waarin Jesus Hom bevind het: dit was baie warm, die reis was lank en Hy was te voet op reis. Hy het geweet dat Hy as gevolg van ‘n langdurige vyandskap tussen die Jode en die Samaritane nie welkom daar sou wees nie. In daardie dae het vrouens ‘n sluier oor hulle gesigte gedra en was hulle verbied om met mans buite hulle eie familie te praat. Hierdie vrou was reeds die onderwerp van skinderstories, omdat sy al vyf keer geskei was. Hoekom het Jesus dus gevoel dat Hy deur Samaria moet reis? Omdat Hy verby haar probleem gekyk het en haar potensiaal vir sy koninkryk gesien het. Die Bybel sê: ‘Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het…’ (vers 39 NLV). Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. Die skedule beheer Jesus nie; die wil van God en die behoeftes van mense wat seer het doen. Hy was gewillig om uit sy pad te gaan, tradisie op sy kop te keer en nuwe voorbeelde daar te stel om dit te doen. Let op wat Jesus na die tyd vir sy dissipels gesê het: ‘Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes’ nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes. Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ‘n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly’ (vers 35-36 NLV).

Sielskos: Eks 20:13; Gen 4:1-15; Matt 5:21-22