Herstel beskadigde mense (2)

2019-05-11
1 Timoteus 1:15 NLV

Die apostel Paulus skryf: ‘Julle het mos gehoor… dat ek God se kerk fanaties vervolg en verwoesting gesaai het’ (Galasiërs 1:13 NLV). Paulus het ‘n kriminele rekord gehad. Hy het die bloed van onskuldige mans en vrouens op sy hande gehad. Tog het God hom gebruik om die helfte van die Nuwe Testament te skryf, die kerk te vestig en die naam van Jesus na die howe van Caesar te bring. Sou jy hom vertrou het om die leier van jou denominasie te wees, of jou kon indink dat hy groot waarhede sou deel en die openbaringe wat hy uit die hemel ontvang het met jou sou deel? Die Bybel sê: ‘[God se] gawes en roeping staan onherroeplik vas’ (Romeine 11:29 NLV). God kanselleer nooit ons roeping nie. Hy neem nooit die geestelike gawes wat Hy vir ons gegee het terug nie. As Hy dit nie doen nie, moet ons ook nie. Hoe moet ons ‘n broer of suster hanteer wat die pad byster geraak het? Met sagmoedigheid! ‘Liewe broers en susters, wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie. Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee só uitvoering aan Christus se liefdeswet’ (Galasiërs 6:1-2 NLV). Is dit soms morsig om beskadigde mense te herstel? Ja. Is dit maklik? Nee. Hulle is egter steeds deel van ons geestelike familie. Die wêreld kyk hoe ons hulle behandel. As ons diegene wat struikel weggooi, hoekom sal die wêreld dink dat ons nie dieselfde met hulle sal doen nie? Dink daaroor. As jy nie genade in die familie van God kan kry nie, waar kan jy dit dan kry?

Sielskos: Heb 1-4; Mark 6:14-29; Ps 18:1-29; Spr 11:19-21