Herinner jouself aan God se Woord (4)
2024-05-231 Korintiërs 1:9 NLV
Wanneer jy onbevoeg vir die werk voel. Het jy al ooit ‘n werk gekry waarvoor jy nie bevoeg gevoel het nie? Geen probleem – dis ‘n geleentheid vir God om te wys dat Hy namens jou sterk is (sien 2 Kronieke 16:9). ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie’ (Psalm 55:23 NLV).
In plaas daarvan om bang vir die uitdaging te wees, begin jou geloof voed. ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Bestee meer tyd in gebed en beweeg nader aan Jesus: ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is’ (Johannes 15:7-8 NLV).
In plaas daarvan om tot jou vrees in te gee, staan op God se Woord: ‘…dink maar net terug hoe julle eie situasie destyds was toe God julle geroep het. Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle… Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dommigheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak… Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie’ (1 Korintiërs 1:26-29 NLV). ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). Jy is reg; op jou eie is jy nie opgewasse vir die taak nie. Met God egter aan jou sy, kan jy die uitdaging die hoof bied!
Sielskos: Rig 7:1-9:33; Mark 10:23-34; Ps 93; Spr 13:7-8