Herinner jouself aan God se Woord (3)
2024-05-22Spreuke 27:20 NLV
Wanneer jy deur materialisme beheer word. Die Bybel sê: ‘…’n Mens se begeertes kry ook nooit ‘n einde nie.’ Dis in die haak om ‘n mooi huis, ‘n betroubare kar en finansiële sekuriteit te wil hê – en God sal dit voorsien indien jy ‘n goeie rentmeester is van dit wat Hy reeds aan jou toevertrou het.
As jy egter meer wil hê as wat jy nodig het of meer as wat nodig is om sy wil te vervul, noem die Bybel dit ydelheid. Hierdie woord beteken leeg, hol of doelloos. Salomo skryf: ‘Mense wat geld liefhet, kry nooit genoeg daarvan nie. Mense wat van rykdom hou, is nooit tevrede met hulle inkomste nie. Ook dit is sinloos’ (Prediker 5:9 NLV). Voor jy dus vir God vir welvaart vra, vra Hom om jou lewensdoel aan jou te openbaar aangesien dit direk aan mekaar gekoppel is. Jesus het gesê: ‘…Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’ (Lukas 12:15 NLV).
God gebruik ‘n ander maatstaf, in sy Woord sê Hy: ‘…is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk… God wat saad voorsien aan die saaier en dan brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei. In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees… julle vrygewigheid [bring] mee dat God gedank word’ (2 Korintiërs 9:8, 10-11 NLV).
Is God gewillig om jou finansieel te seën? Ja, maar net as jy bereid is om ‘n kanaal en verspreider van sy seëninge te wees.
Sielskos: Rig 4-6; Mark 10:13-22; Ps 88:9b-18; Spr 13:4-6