Herbou jou integriteit
2020-06-24Lukas 19:8 NLV
Saggeus het ryk geword deur meer tolgeld by mense te vat as wat sy Romeinse base verwag het en dan die verskil in sy eie sak te steek. Nadat hy Jesus egter ontmoet het, het hy gesê: ‘…as ek iets van iemand met ‘n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.’ Jesus het toe gesê: ‘…Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom…’ (vers 9 NLV). Integriteit gaan nie oor spyt, of om pynlike nagevolge te minimaliseer of om skadebeheer te doen nie. Dit gaan oor eerlike berou, om vrede te maak en op ‘n manier te lewe wat waarborg dat jy dinge in die toekoms anders sal doen. Een pastoor het gesê: ‘Mense kyk om hulle rond na losbandigheid, aborsie, seksueel oordraagbare siektes en rou daaroor. Hulle sien hoe amptenare omkoopgeld aanvaar, hoe beleggers inligting vir geld verkoop en kla oor die ondergang van integriteit. Hulle lees oor vrouens wat geslaan word, werklose mans en mishandelde kinders en wonder wat van omgee geword het.’ Die Bybel sê: ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers…’ (Spreuke 11:3 NLV). As jy jou integriteit wil herbou, moet jy erken dat jou gedagtes soms nie geskik is vir goeie geselskap nie, of dat jy iemand seergemaak het en dinge met daardie persoon moet regmaak. Daar word geskat dat 50 persent van Amerikaanse Christene op hulle belastingopgawes kul. Dis amper dieselfde hoeveelheid mense wat nie vir Christus volg nie! Integriteit is wie jy is wanneer niemand jou dophou nie. Job het gesê: ‘Sien Hy nie hoe ek optree nie?.. Het ek ooit vir iemand gelieg, of iemand bedrieg? Laat God my dan weeg en oordeel. Hy ken my onskuld’ (Job 31:4-6 NLV). Begin vandag om jou integriteit te herbou.
Sielskos: Hosea 6-10; Luk 2:21-33; Ps 17; Spr 14:13-16