Herbou jou huwelik (4)
2023-05-23Hooglied 8:7 NLV
Julle moet openhartig met mekaar wees. Julle moet deursigtig, sensitief, vatbaar en gewillig wees om mekaar te vertrou. Stop en dink hoe jy voel wanneer die dokter jou ‘n inspuiting moet gee. Jou eerste reaksie is om jou spiere saam te trek, nie waar nie? So trek ons harte ook na die pyn van verwerping, verraad, of verwaarlosing, saam. Dis ‘n refleksmeganisme van die siel; ‘n manier om onsself onbewustelik te beskerm. Dis ‘n goeie eienskap, behalwe in die huwelik.
As jy nie hierdie meganisme afskakel nie, sal jy jou siel toemaak. Dit is die toestand waar jy vir die persoon lief is en elke aand huis toe na hulle toe kom, maar jy is skrikkerig en nie meer in die oomblik teenwoordig nie. Jy het jouself afgesluit, uit vrees vir teleurstelling en seerkry.
Die huwelik is ‘n oop verbond wat deur fisiese intimiteit voltrek word, wat alle hindernisse verwyder en die vreugde dat daar niks tussen julle is nie, vier. Dis moeilik om sulke intimiteit emosioneel en fisies te bereik en te handhaaf, wanneer jy verraad en teleurstelling ervaar het.
Daar is egter goeie nuus. Die sentrale tema van die Bybel is opstanding; dat dit wat dood is weer kan lewe. Indien jy dus daardie nabyheid verloor het, kan jy dit terugkry as jy gewillig is om jou siel te ontspan en jou hart vir die ander persoon oop te maak. Salomo skryf: ‘…Liefde … brand soos ‘n vuurvlam wat alles verteer. ‘n Stroom water kan die liefde nie blus nie. Riviere kan dit nie wegspoel nie…’ (verse 6-7 NLV). As jy God se hulp vra en gewillig is om daaraan te werk, kan jy jou liefde weer laat opvlam en jou huwelik herbou.
Sielskos: Heb 5-8; Matt 12:1-14; Ps 93; Spr 11:30-31