Help mekaar (2)

2022-03-29
1 Korintiërs 6:11 NLV

Nadat hy sommige van die ergste sondes moontlik genoem het, het Paulus vir die mense van Korinte gesê: ‘Daar was ‘n tyd toe party van julle presies so was, maar nou is julle sonde afgewas en God het julle aan Homself toegewy. Julle is vrygespreekte mense op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen het’ (vers 11 NLV). Voor jy dus ‘n oordeel oor iemand anders vel, onthou waaruit God jou gelig het! Daar is twee maniere hoe ons mekaar kan help.

Een is om ‘n gewas te verwyder. ‘n Gewas kan jou doodmaak en moet verwyder word. Paulus skryf: ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp… Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee só uitvoering aan Christus se liefdeswet’ (Galasiërs 6:1-2 NLV). Dit kan ‘n las wees om iemand anders se skaamte en vernedering saam met hulle te dra. Nietemin, ‘Terwyl ons die kans het, moet ons dus goeddoen aan alle mense, maar veral aan medegelowiges’ (Galasiërs 6:10 NLV). As jy vinnig is om iemand anders te veroordeel – iets wat ons almal al van tyd tot tyd gedoen het – vra jouself die volgende vraag af: As mense nie genade tussen die mense wat dit preek kan vind nie, waar kan hulle dit dan kry?

Die tweede manier is om ‘n gebreekte been te spalk. Die Skrif sê vir ons: ‘…Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam…’ (Romeine 12:5 NLV). Deur iemand wat geval het op te help, help jy hulle om hulle pyn te genees en stel jy hulle in staat om weer ‘n noodsaaklike, funksionerende deel van Christus se liggaam te word. Die woord vir jou vandag is dus – help mekaar.

Sielskos: Job 35-37; Luk 20:20-26; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31