Help mekaar (1)

2022-03-28
Galasiërs 6:1 NLV

Soms wanneer ons val, kan ons self weer regop kom; ander kere het ons iemand nodig om ons op te help. Dis hartseer dat nie alle Christene gewillig is om te help nie. Soms voel hulle dat indien hulle genade aan iemand bewys, hulle dan ook daardie persoon se sonde verskoon. Paulus het hierdie argument egter op sy kop gekeer toe hy geskryf het: ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:32 NLV). Hoekom moet ons mekaar reghelp?

1) Omdat God dit van ons verwag. ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie’ (Galasiërs 6:1 NLV). Dis trots wat ons ‘n beskuldigende vinger laat wys, in plaas daarvan om ‘n helpende hand na diegene wat geval het, uit te steek. Dit laat ons dink dat ons beter as iemand anders is; nie in staat is om te val soos hulle het nie. Paulus skryf egter: ‘Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:12 NLV).

2) Omdat Jesus ons voorbeeld is. Jesus het nie tyd vir die Fariseërs wat hulle sonde agter ‘n godsdienstige masker weggesteek het, gehad nie. Hy het egter nie een keer iemand wat in sonde verval het, veroordeel nie. Die oomblik wat hulle by Hom aangekom het, het Hy hulle gewillig reggehelp. Vandag kyk ander mense na ons om seker te maak of die genade wat ons preek, dieselfde genade is wat ons aan mekaar bewys. Kom ons stel hulle nie teleur nie.

Sielskos: Job 32-34; Luk 20:9-19; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29