Heers, of word oorheers

2021-06-17
Genesis 1:26 NLV

Tydens die skepping het God iets interessants oor ons gesê: ‘Laat hulle soos konings heers.’ Met ander woorde, Hy het volle outoriteit in jou geplaas om jou lewe te beheer. Jy dien as sy agent hier op aarde om seker te maak dat sy wil gedoen word. Wees egter versigtig. Satan sal probeer dat jy jou heerskappy aan hom oorgee, of jou mislei om te glo dat jy geen mag het nie en dat hy al die mag het. Hy sal jou ook moontlik probeer oortuig om jou lewe volgens jou eie verwronge oordele en sieninge te regeer.

Eers wanneer jy met wysheid volgens die voorskrifte van God se Woord regeer, sal jy ‘n volkome en volledige besef van sy ontwerp vir jou lewe kry. God heers oor alles, maar Hy het vir jou heerskappy in jou invloedsfeer gegee. ‘Die hemele behoort aan die Here, maar die aarde het Hy vir die mensdom gegee’ (Psalm 115:16 NLV). God bemagtig jou om die regte keuses en besluite te maak en pas sy reaksie by jou aksies aan. Soms sit en wag ons vir God om op te tree, terwyl Hy vir ons wag om ‘n skuif te maak.

Een pastoor skryf dat God: ‘…’n basis van soewereine grense handhaaf; ‘n sfeer wat Hy nie mense sal toelaat om te oortree nie, maar terselftertyd ‘n veld oopmaak waar ons kan regeer en waar Hy dan dienoorkomstig kan reageer.’ As jy byvoorbeeld volop wil oes, moet jy volop saai. As jy vergewe wil word, moet jy ander vergewe. As jy saam met Hom in sy seën wil stap, moet jy gehoorsaam wees. Jy is geroepe om deur Jesus Christus ‘…koninklik oor die sonde en die dood [te] triomfeer’ (Romeine 5:17 NLV).

Sielskos: Hosea 1-5; Luk 1:26-38; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23