Harmonie by die huis (3)
2021-06-11Spreuke 14:29 NLV
Dis nooit in die haak om teenoor diegene wat God aan jou sorg toevertrou het, te ontplof nie. Die Bybel sê: ‘Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV). Satan wil graag toegang tot jou huis verkry om dit in ‘n lewende hel te omskep en elke keer wat jy ‘n woedeuitbarsting kry, wen hy grond. Dis hoekom die Skrif sê: “‘n Geduldige mens het insig. Iemand wat kort van draad is, stal sy dwaasheid uit.”
Die sleutel om jou woede te beheer, lê daarin om gesonde maniere te kry om daaraan uitdrukking te gee, sodat dit nie op die ou einde meer seermaak as wat dit help nie. Dis belangrik om jou gevoelens te deel, maar jy moet dit altyd op die regte manier doen. Op die ou einde van die dag gaan dit nie oor wie reg of verkeerd is nie, of wie die hardste kan skree nie. Dit gaan daaroor om die beste oplossing vir almal te vind.
Niemand kan altyd alles wees wat jy nodig het nie. Dis onmoontlik om ‘n langtermyn, liefdevolle verhouding te hê sonder om menslike swakhede te aanvaar nie. In plaas daarvan om dus op mekaar se tekortkominge te fokus, fokus op julle gesamentlike krag as familie. Die kliniese neurosielkundige Paul Pearsall, sê: ‘Die meeste van ons sal ons lewens vir ‘n familielid gee, tog lei ons te dikwels ons daaglikse lewe asof ons ons familie as vanselfsprekend aanvaar.’
Leer om jou humeur te beteuel; jou familie is dit werd. Wie anders is lief vir jou, ten spyte van dit wat jy doen? Waar anders kan jy die vertroosting en krag wat uit so ‘n ondersteuningstelsel spruit, kry?
Sielskos: 2 Kon 13-15; Mark 15:21-32; Ps 143; Spr 13:9-10