Harde werk – die prys van sukses
2020-10-31Spreuke 14:23 NLV
Een dag het ‘n oupa vir sy kleinkinders die verhaal van hoe hy na Amerika gekom het, vertel. Hy het hulle van die treine en die skip wat hom van sy huis in Oos-Europa gebring het, vertel. Hy het vertel hoe hy saam met ander immigrante by Ellis Eiland geprosseseer moes word en hoe hy na ‘n kafeteria gegaan het om iets te kry om te eet. Hy het by ‘n leë tafel gaan sit en lank gewag vir iemand om sy bestelling te kom neem, maar niemand het nie.
Uiteindelik het ‘n vrou met ‘n skinkbord kos oorkant hom gaan sit en verduidelik hoe ‘n kafeteria werk. ‘Jy begin by hierdie punt,’ het sy gesê en na ‘n stapel skinkborde gewys. ‘Dan gaan jy by die lyn kos af en kies wat jy wil hê. By die ander punt sal hulle vir jou sê hoeveel dit sal kos.’
Die oupa het vir ‘n ruk daaroor gepeins en toe vir sy kleinkinders gesê: ‘Ek het gou geleer hoe alles in hierdie land werk. Die lewe hier is ‘n kafeteria. Jy kan enigiets kry wat jy wil hê – selfs groot sukses – as jy bereid is om die prys te betaal. Jy sal egter nooit kry wat jy wil hê as jy vir iemand wag om dit vir jou te bring nie. Jy moet opstaan en dit self gaan kry.’
Die verskil tussen waar jy op die oomblik is en waar jy wil wees, kan met twee woorde opgesom word – harde werk! ‘Wil God hê dat ek sukses moet behaal?’ vra jy. Ja, maar Hy sal nie sukses in jou skoot laat val nie. Hy het beloof om ‘…al die werk wat jy doen, te seën…’ (Deuteronomium 28:12 NLV). Ontelbare ure, aanhoudende inspanning en konstante verbetering kan die verskil tussen ambisie en sukses maak.
Sielskos: Deut 18:9-18; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34; Dan 2