Hanteer vrees (5)
2021-03-19Psalm 27:1 NLV
‘n Ou gesegde lui: ‘Vrees maak die wolf groter as wat hy is.’ Dit oordryf die probleem en gevolglik bestee jy waardevolle energie op onnodige emosies. Jy vermy soms byvoorbeeld dinge wat jou glad nie skade kan aandoen nie. Soos die man wat met krapmerke en kneusplekke na ‘n staptog by sy vakansiehuis aangekom het. ‘Wat het gebeur?’ het sy vrou gevra. ‘Ek het in ‘n slang op die voetpaadjie vasgeloop,’ het hy geantwoord. ‘Onthou jy dan nie,’ het sy vrou gesê,’ die toergids het ons gister gesê dat die slange hier rond nie giftig is nie?’ Haar man het geantwoord: ‘Hulle hoef nie giftig te wees as hulle jou by ‘n ses meter krans kan laat afspring nie!’ Duidelik was hierdie man se vrees – nie die slang nie – die probleem.
Charles Spurgeon het een maal gesê: ‘Angs neem nie die droewighede van môre weg nie, maar wel vandag se krag.’ Solank as wat jy vrees toelaat om in die bestuursitplek te sit, sal jy nooit gaan waarheen God jou wil neem nie, of die talente wat Hy in jou geplaas het ontdek en ontwikkel nie. God sal jou egter help om die vrese wat jou beheer, te konfronteer en te oorwin.
Dawid, die skrywer van Psalms en Israel se geliefde koning, het gereeld homself met sy rug teen die muur bevind. Tydens een so ‘n geleentheid het hy geskryf: ‘…Kom tog gou om my te help, Here, my redder’ (Psalm 38:22 NLV). ‘Asseblief, Here, red my tog! Kom gou, Here, en help my!’ (Psalm 40:14 NLV). Dawid het geweet na wie toe om te draai: ‘Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees?..’ Wanneer God jou bron van krag is, kan jy jou ergste vrese in die gesig staar en hulle oorkom.
Sielskos: Job 21-23; Matt 24:15-25; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13