Hanteer versoeking (2)

2023-08-13
Nehemia 8:10 NLV

Het jy al ooit agtergekom dat wanneer jy honger is, alles op die spyskaart lekker lyk? Soortgelyk is wanneer jou siel ontevrede is en sonde dan aanloklik lyk. Dis hoekom jy altyd van jou geestelike toestand bewus moet wees en die vlak van jou gees se bevrediging moet monitor. Daar is liggies op jou kar se paneelbord wat aandui hoe warm die enjin is of wanneer jy olie moet ingooi. Die belangrikste liggie op jou hart se paneelbord is die liggie wat jou gees se bevrediging aandui.

Dis hoekom daar so baie Skrifgedeeltes in die Bybel is wat ons roep om vreugdevol te wees: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ ‘U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV). ‘Met blydskap sal julle drink van die fonteine van redding!’ (Jesaja 12:3 NLV). ‘…Hou aan bid, en julle sal ontvang sodat julle blydskap volledig kan wees’ (Johannes 16:24 NLV).

Hoekom word andersins intelligente mense dan nog steeds in versoeking vasgevang? Omdat wanneer ons ontevrede met ons lewens is, ons kwesbaar vir versoeking is. Hoe dieper die vlak van ons ontevredenheid is, hoe meer vatbaar is ons vir versoeking. As ons nie tevredenheid in ons verhouding met God vind nie, sal ons daarvoor in al die verkeerde plekke soek. Paulus sê: ‘As God koning is in ons lewe, gaan dit nie om wat ons eet of drink nie; dit gaan daarom dat ons reg sal lewe en die vrede en die blydskap sal vertoon wat die Heilige Gees in ons bewerk’ (Romeine 14:17 NLV). Die geheim tot vreugde lê daarin om ‘n lewe te lei wat deur die Gees gerig word – dis nog altyd so en sal altyd so wees.

Sielskos: Est 4:13-5:3; Matt 6:16-21; Mark 2:18-22