Hanteer vandag die gemors
2022-06-18Jesaja 43:18 NLV
Ons almal het emosionele solders en kelders waar ons ons ‘gemors’ bêre. Dit werk dieselfde met ons verhoudings. Dis moeilik vir ‘n verhouding om te floreer wanneer beide partye nie hul geestelike en emosionele gemors al verwerk het nie. Ons praat hier van: 1) spyt oor foute in die verlede, 2) wrokke waaraan ons vashou omdat ons voel dat ons verkeerd behandel is, en 3) seer wat ons onder ‘n wolk van woede, twyfel en isolasie wegsteek. As jy die tipe persoon is wat wrokke koester en aan foute in die verlede vashou, weet jy hoe dit voel om deur jou geestelike en emosionele gemors afgerem te word.
Wanneer jy aan seer vasklou en wrokke koester, sal dit jou siel vreet, jou blydskap verorber en al jou vordering van jou steel. Soos blaam, hou hierdie gemors jou in die verlede vasgevang. As ‘n eks jou seergemaak het en jy dit nooit laat gaan het nie, sal jy elke keer wat jou maat iets soortgelyks doen, met onbillike drif daarop reageer, asof hulle die oorspronklike persoon is wat jou seergemaak het. Gevolglik is jou maat ontsteld en deurmekaar oor jou oordrewe reaksie op ‘n klein oortreding, wat op sy eie onbeduidend is.
Jy sal nie weet wat jy in jou lewe het, om nie te praat van wat jy nodig het, totdat jy nie die gemors van die verlede hanteer het sodat jy die seën van die ‘hier en nou’ kan geniet nie. Dit kom daarop neer om hierdie twee Skrifgedeeltes te gehoorsaam: ‘En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het’ (Matteus 6:12 NLV), en 2) ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:18-19 NLV). Hanteer vandag die gemors.
Sielskos: 2 Kon 13-15; Matt 19:1-14; Ps 73:17-28; Spr 13:20