Hanteer jou finansies met wysheid (3)
2021-12-23Spreuke 15:27 NLV
J. Paul Getty se boedel het vier biljoen dollars oorskry. Hy was een van die rykste mans op aarde. Die Los Angeles Times het een van Getty se skrywes aangehaal: ‘Ek raak nooit maklik afgunstig nie, behalwe vir die afguns wat ek teenoor mense wat die vermoĆ« het om ‘n huwelik te laat werk, voel. Dit is ‘n kuns wat ek nog nooit kon baasraak nie. My rekord: vyf huwelike, vyf egskeidings. Kortom, vyf mislukkings.’
Die koerantartikel vertel verder: ‘Getty het die herinneringe aan sy verhouding met sy vyf seuns, as ‘pynlik’ beskryf. Baie van sy pyn is saam met sy boedel aan sy nasate nagelaat. Timothy, een van Getty se seuns, het in 1958 in die ouderdom van twaalf aan komplikasies na ‘n operasie gesterf. Hy was die meeste tyd van sy lewe siek en het sy pa wat alewig weg op besigheid was, min gesien. Ander lede van die Getty familie het ook tragiese omstandighede gehad. ‘n Kleinseun, J. Paul Getty III, is ontvoer en vir ‘n losprys van $2.9 miljoen aangehou. Toe Getty weier om die losprys te betaal, het die ontvoerders die seun vir vyf maande aangehou en uiteindelik sy oor afgesny. Getty se oudste seun het onder vreemde omstandighede selfdood gepleeg. ‘n Ander seun, Gordon Paul Getty, se omstandighede was baie moeilik. Sy pa het hom gespot en hy was definitief nie sy pa se gunsteling nie. Soortgelyke droefheid het ander lede van hierdie ongelukkige familie soos ‘n skaduwee gevolg.’
Wanneer jy geld eerste en jou familie tweede stel, maak dit jou niks anders as ‘n ryk mislukking nie. As jy dus besig is om jou familie vir jou loopbaan op te offer, begin veranderinge maak! Moenie eendag terugkyk en besef dat jy vir die verkeerde dinge gelewe het nie.
Sielskos: 1 Kor 1-3; Matt 1:6b-11; Ps 113; Spr 31:14-17