Hanteer eensaamheid (2)
2023-07-132 Timoteus 4:16 NLV
Wat is die regte manier om eensaamheid te hanteer?
1) Leer om alleen te wees sonder om eensaam te voel. Jesus het dikwels die skare agtergelaat om tyd alleen saam met sy Vader in gebed te bestee. Hoekom? Omdat Hy geweet het dat afsondering noodsaaklik vir geestelike groei is. Na daardie tye van afsondering was Hy verryk en beter toegerus om die uitdagings van die lewe te hanteer. Die Bybel sê: ‘[Jakob] het alleen agtergebly. Dáár kom hy ‘n man teë wat tot dagbreek met hom worstel’ (Genesis 32:24 NLV). Hy het as ‘n man met ‘n nuwe naam, ‘n nuwe aard, ‘n nuwe manier van stap en ‘n nuwe toekoms uit daardie tyd wat hy alleen met God bestee het, gestap. Wanneer mense besef dat jy jou gunsteling ete, fliek of ander aktiwiteit alleen kan geniet, word hulle deur jou krag, onafhanklikheid en selfvertroue aangetrek.
2) Verwerp die idee dat jy nie sonder ‘n sekere persoon kan leef nie. God is die enigste persoon wat jy moet hê en Hy het beloof om altyd by jou te wees (sien Hebreërs 13:5). Ons verval dikwels in depressie na die dood van ‘n geliefde, omdat ons nie ‘n lewe buite die verhouding ontwikkel het nie. Dis egter nooit te laat om te begin nie. God sal jou daarmee help. Paulus het geskryf: ‘Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat. Ek hoop nie dit sal teen hulle tel nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee om die Goeie Nuus in al sy volheid te verkondig sodat al die heidene dit kan hoor…’ (2 Timoteus 4:16-17 NLV). God sal jou help om oor jou verlies te rou en dan aan te beweeg vir dit wat Hy volgende vir jou in gedagte het.
Sielskos: Jer 49-50; Matt 26:1-13; Ps 109:16-31; Spr 15:23-26