Hanteer eensaamheid (1)

2023-07-12
Psalm 102:8 NLV

Wolfgang Dircks, ‘n geskeide, gestremde alleenloper, is in Desember 1998 – vyf jaar nadat hy dood is – in sy woonstel in Bonn, Duitsland, gevind. Hy was drie-en-veertig jaar oud en het gesterf terwyl hy televisie gekyk het. Sy bure het niks agtergekom nie. Die woonstel se eienaar het hom kom opsoek nadat die bankrekening waaruit sy huur betaal is, opgedroog het. ‘n TV-skedule het steeds op die skoot van Dircks se geraamte gelê en was oop op die bladsy van 5 Desember 1993 – die oënskynlike datum van sy dood. Die televisie het lankal die gees gegee, maar die liggies op sy Kersboom van 1993 het steeds gebrand.

Toe God ons geskep het, het Hy gesê: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n metgesel maak, sy gelyke wat hom kan help’ (Genesis 2:18 NLV). Jy is geskep om verhoudings te hê. Jy hoef nie eensaamheid as jou lotsbestemming te aanvaar nie.

Doen eerder die volgende: 1) Identifiseer ‘n behoefte en voldoen daaraan. Dikwels is eensaamheid nie die afwesigheid van mense nie, maar van ‘n doel. Toon ‘n ware belangstelling in ander se probleme. Weerstaan die drang om jou eie probleme en bekommernisse die doel van elke gesprek te maak. ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:3-4 NVL).

2) Wees vrygewig met jou tyd, talente en skatte. Nie almal sal dit wat jy bied aanvaar nie, maar iemand sal. Bid vir leiding en hou aan om uit te reik. God sê: ‘…Jy is so dierbaar vir My. Jy is belangrik vir My. Ek is baie lief vir jou’ (Jesaja 43:4 DB).

Sielskos: Jer 45-48; Matt 25:31-46; Ps 109:1-15; Spr 15:22