Goeie leierskap
2022-06-20Numeri 1:1 NLV
‘n Goeie leier is soos ‘n goeie skeepskaptein; hulle beplan die hele reis in hul gedagtes nog voor hulle die hawe verlaat. Hulle het ‘n duidelike visie van hulle bestemming, hulle verstaan wat dit gaan verg om daar te kom, hulle weet wie aan boord moet wees sodat die reis suksesvol sal wees en hulle herken struikelblokke lank voor dit op die horison verskyn. Omdat hulle goed voorbereid is, kan goeie leiers hul mense omtrent enige plek neem.
Moses was so ‘n leier. Hy het veertig dae op ‘n berg gevas en gebid en geweier om te loop totdat hy verstaan het wat God wou hê hy moes doen. Toe het hy teruggegaan en dit aan die mense gekommunikeer, sodat hulle aan sy visie kon deelneem.
Dr John Maxwell skryf in Leadership Promises For Your Week, die volgende: ‘Moses het as ‘n goeie leier die stamme se kampe metodies in die woestyn gerangskik (sien Numeri 2:34 NLV). Hoe kan ons ook so goed georganiseer wees? Deur die volgende te doen:
1) Neem tyd om te beplan en te organiseer. Bepaal jou primêre doelwit.
2) Verstaan waar jy tans is, voordat jy probeer om ‘n strategie te ontwikkel.
3) Prioritiseer die behoeftes en doelwitte van die span, deur hulle die regte vrae te vra.
4) Skryf doelwitte wat realisties, meetbaar en oortuigend is, neer.
5) Klaar doelwitte op en kommunikeer met jou span.
6) Identifiseer moontlike struikelblokke.
7) Begroot vir jou koste en tyd deur alles wat jy kan te skeduleer en spertye daarvoor te stel.
8) Bestudeer die resultate. Evaluasie verhoed stagnasie en oordrywing.’
As jy wil hê dat God jou plan moet seën, moet jy ‘n plan hê wat Hy kan seën. Dit moet van God self af kom. Praat dus vandag met God oor sy plan vir jou lewe.
Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Matt 19:15-30; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23