God se wonderbaarlike liefde vir jou
2023-08-31Efesiërs 3:18 NLV
Paulus skryf: ‘Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word’ (verse 16-19 NLV).
Ten spyte van ons beste voornemens, sondig ons steeds. Gevolglik voel ons sleg oor onsself. Satan gebruik ons gevoelens van skuld en veroordeling om ons aan God se liefde vir ons te laat twyfel. As God jou egter so liefgehad het dat Hy sy seun gestuur het om namens jou te sterf terwyl jy nog ‘n volskaalse sondaar was, kan jy seker wees dat Hy nie sy plan oor jou sal verander wanneer jy sy verloste, maar sukkelende, kind is nie.
Om sleg oor sonde te voel is inderwaarheid ‘n bewys dat jy waarlik God se kind is. Toe jy wedergebore is, het jy ‘n nuwe gees wat in ‘n wêreldse liggaam leef, geword. Wanneer jy dus toelaat dat sonde jou lewe binnekom, staan jou wedergebore gees op en sê: ‘Kry dit hier weg, dit is onversoenbaar met wie ek is.’ Dis nie dat God nie lief is vir jou wanneer jy sondig nie, maar dat sonde ‘n onwelkome gas is wat jou sleg oor jouself laat voel en jou vrymoedigheid teenoor God van jou steel. As jy dus gesondig het, bely dit, ontvang God se vergifnis en beweeg sterker en wyser vorentoe.
Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Mark 9:30-37; Ps 84; Spr 19:11