God se getrouheid aan jou

2022-06-12
2 Timoteus 2:13 NLV

Hier is iets waaroor jy baie bly moet wees: God se getrouheid aan jou hang nie van jou getrouheid aan Hom af nie. Die Bybel sê: ‘Maar as ons ontrou is – Hy bly getrou…’ Jou foute mag jou dalk buite God se wil neem, maar hulle sal jou nooit buite sy bereik plaas nie.

Catherine Marshall vertel van ‘n groot persoonlike stryd wat sy ondervind het terwyl sy ‘n boek getiteld Gloria geskryf het. Sy het die boek in 1969 begin skryf en die projek twee-en-‘n-half jaar later laat vaar. Die halwe manuskrip het vir haar soos “‘n dood in die familie” gevoel. In ‘n poging om haar teenstrydige gedagtes en gevoelens te versoen, het sy tyd by ‘n toevlugsoord deurgebring. Terwyl sy daar was, het sy weer die Bybelse verhaal in Numeri gelees oor die tyd wat giftige slange die Israeliete se kamp binnegedring het. Die mense het besef dat die slange ‘n straf vir hulle sondes was en het in berou uitgeroep. Die Here het vir Moses gesê: ‘…Maak vir jou ‘n afbeelding van ‘n giftige slang en sit dit bo-op ‘n paal. Elkeen wat gepik is en daarna kyk, sal bly leef…’ (Numeri 21:8 NLV).

Catherine het besef dat net soos die Israeliete dit wat hulle seergemaak het geneem en dit na God opgehef het en genesing ervaar het, so kan ons ons sondes en foute neem en dit in gebed na God ophef, met die vertroue dat Hy ons sal genees. Sy skryf: ‘Wanneer enigeen van ons as gevolg van arrogansie, gebrek aan vertroue, ongeduld of vrees ‘n verkeerde afdraai in ons lewens maak – sal God vir ons ‘n uitweg wys.’ Selfs wanneer jy afdwaal, het God jou so lief dat Hy jou weer na Homself toe sal terugbring. ‘Maar as ons ontrou is – Hy bly getrou…’

Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; 1 Tess 4:13-18; Ef 1:19-20